DIY Mandala tips

Fragile Strength. Lize Beekman Mandala art. South Africa.
Almal sien nie altyd kans om raad te vra nie…
…miskien is dié brief ook vir jou.
Liewe Lindie,

 

Ek is jammer oor als wat jy deur is en al die seer en moeilik wat daarmee saamgaan. Ek wens ek kon dit sommer-net vir jou uitvee of tyd vir jou terugdraai, maar ons weet maar te goed dat dit nie kan nie. Met dit wat jy vir my vra kan ek wel help. Ek doen dit met liefde en ek hoop dat dit voorwaar sal help met lig en kalmte op die pad wat voor jou lê…selfs al is dit net ’n bietjie, dan is ek saam met jou dankbaar.

 

Aan die een kant is ek versigtig om ‘voorskriftelik’ te wees oor die maak of teken of verf van mandalas, want ek glo dit is juis nodig dat daar NIE ‘reëls’ is nie.  Die sirkel is eintlik gewoon ’n spasie waarbinne ons ons hart en gedagtes vrye teuels kan gee….wat op die papier, of hout, of canvas, of glas, of sand, gebeur, gebeur eenvoudig net en dit is wat dit is. Wat in jou lyf en jou kop gebeur is eintlik al wat saak maak…hetsy dat mens stil raak en fokus op in- en uit asemhaal, of dat mens oor ’n lang tyd ’sorteer’ deur die chaos in mens se hart en kop ter wille van kalmte, vrede, antwoorde, aanvaarding – watookal mens nodig het om die volgende tree te gee. Ek vermoed die simmetrie binne die sirkel sluit aan daarby….dis asof mens alles wat jy voel en dink ’n sirkel-op-’n-slag loslaat sonder voorbehoud, en dit met die simmetrie ’sorteer’ in ’n hanteerbare stukkie op ’n slag – ’n mandala op ’n slag.   Dit wat op die bladsy opeindig hoef jy aan niemand te verwoord of te probeer verduidelik nie – niemand hoef dit eers te sien as jy nie wil nie – en as hulle dit wel sien kan hulle dit interpreteer soos hulle wil.

 

Die media wat jy gebruik is regtig eintlik net wat jy wil!  Die keuse van media wat ek deesdae gebruik (ink penne, ink, akriel, potlood, canvas, acid-free papier) is in ’n groot mate omrede dit permanent moet wees omdat mense die mandalas koop en verwag dit moet baie jare beware bly.  Ek seël ook elke mandala nadat dit voltooi is met ’n sproei-vernis.  Ek dink jy moet probeer ‘luister’ na wat jou eie behoefte is – as jy so voel kan jy ’n mandala uit klip kap as jy wil?! Dalk voel jy om met blare een uit te pak en dan te wag dat die wind dit wegwaai, en dan is dit ook goed…

 

Aan die begin het ek gewoon ’n punt in die middel van ’n bladsy gemaak en van daaraf na buite geteken – al in die rondte. My gedagtes is nooit by wat ek teken nie – ek besluit nie oor ’n lyn nie. Ek laat dit net gebeur soos dit wil.  Deesdae, veral omrede ek soms op ’n groot oppervlak teken, maak ek ’n punt in die middel van die bladsy en trek dan n groot sirkel rondom dit sodat ek perspektief behou.  Jy kan dan ook 2 lyne deur die middelpunt trek…ook ter wille van perspektief.  Ek sou dink mens moet versigtig wees vir te veel lyne, want ’n lyn perk jou in, en gedagte is juis dat jy vry moet wees binne die sirkel. Hier is ’n voorbeeld van ’n begin:

 

Screen Shot 2014-11-12 at 5.59.32 PM

 

Ek hoop dat dit al ’n bietjie help, …en as daai sirkel jou inperk, ‘gooi dit weg’ en laat waai soos jou binneste wil!

 

Ek wens vir jou alle mooi en krag om deur te sien wat jy moet.

 

Groete
Lize Beekman

 

Sedert my TV-onderhoud op Kwêla meer as ‘n jaar gelede, het ek menige briewe gekry van oraloor.  Mense wat vra vir raad oor die teken van mandalas – hoe om dit te doen en wat om te gebruik.  Sommige mense wil gewoon mandalas teken vir ontspanning, maar die meerderheid briewe was van mense wat op hulle lewenspad gekonfronteer word met seer, trauma en moeilike omstandighede wat mens dikwels desperaat laat gryp na enigiets wat jou kan help met die volgende tree in die volgende uur, dag of jaar.

 

Lize Beekman

 

(Lindie is ’n skuilnaam wat gebruik is om haar identiteit te beskerm)

2 thoughts on “DIY Mandala tips

  1. antoinette Olivier says:

    Liewe Lize,

    Waar kan ek NET herfskleurige inkleurpotlode koop? En watter maak is die beste?

    Baie dankie

    Antoinette

  2. Elmien de Wet says:

    Any colouring pencil that is ’soft’ works very well. Something like Colleens, Cretacolor and Derwent is really nice. With a ’soft’ pencil you will immediately feel the difference: it will apply smoothly and give strong colour with little pressure. A ‘hard’ pencil will take lots of pressure and give less colour. Also, softer pencils give you the options to also shade different colours into each other should you want to.
    Waltons, PNA, Deckle Edge…any art shop.

Comments are closed.