Coenie de Villiers open Lize se uitstalling…

Coenie de Villiers open Lize Beekman uitstalling

(‘The Detail of Moments’ Lize Beekman uitstalling by De Malle Meul is geopen deur Coenie de Villiers op 13 April 2014.)

Coenie-de-Villiers

Suid-Afrikaners ken Lize Beekman as een van die mees geliefde musikante en komponiste in Afrikaans.  Haar liedere is volksbesit; haar optredes oor baie jare het haar gevestig as iemand wat kwaliteit aan gehore, musiekliefhebbers en  ondersteuners van Afrikaans bied.  Die stroom van kuns wat deur haar are bruis is egter nie beperk tot slegs musiek nie: kunsliefhebbers in die Kaap het nou die geleentheid om haar solo-uitstalling “The Detail of Moments” as beeldende kunstenaar mee te maak.  Dit volg op haar eerste solo-uitstalling in September 2013 in Pretoria waar kunsliefhebbers die meerderheid van haar werke binne die eerste uur van die opening opgeraap het.

Lize se visuele werke sluit ‘n aangrypende versameling van mandalas in.  Sy herskep en her-vertolk hierdie eeue-oue sirkelkuns op ‘n vars en nuwe manier, en gebruik gemengde media om ‘n baie persoonlike reis te verbeeld.   Losweg vertaal uit die oorspronklike Sanskrit, beteken “mandala” eenvoudig ‘n sirkel, maar die groter betekenis dui op die eenheid van die Skepping.  Dit word inderwaarheid ‘n kosmiese simbool van heling, maar verteenwoordig ook die kompleksiteit van die lewe en die dood.

Dit is juis haar besondere interpretasie van hierdie oer-oue kunsvorm (Hildegard von Bingen, ‘n non uit die 12de eeu, het reeds mandalas geskep om haar geloof konkreet te verbeeld) wat Beekman se werk so uniek maak.  Haar kleurpalet is dikwels onverwags, en die gedetailleerde ragwerk van die mandalas self herinner aan die fynste kantwerk.  In die proses word haar werke ‘n beeldskone reis na herstel en vrede.

In hierdie, haar tweede uitstalling van mandalas, is die werke selfs meer genuanseerd, gedetailleerd en verwikkeld as die wonderlike werk van haar eerste uitstalling.  Daar is ‘n diepgang in kleur, patroon en tekstuur vanaf die eerste uitstalling wat daarop dui dat sy opnuut en oortuigend die diepere betekenis van die mandalas ontsluit.  Dis juis waarop die titel van die uitstalling sinspeel: the detail of moments.

In elke werk reis die kunstenaar terug na ‘n oomblik waar ‘n herinnering – ‘n gedeelde ervaring, ‘n brokkie van ‘n dag, ‘n reis, ‘n gesprek – opnuut herbesoek en vasgevang word; hierdie keer deur die prisma van die geheue en die oog van ‘n kunstenaar wat hierdie oomblikke vaspen en deel met die waarderende kyker.  Elke werk is ‘n herinnering wat gloei soos ‘n juweel; soms is die oomblik wat herroep word sigbaar en die betekenis relatief voor-oë; ander kere is die betekenis van die oomblik verbloem agter die filigree van kleur en lyn, en kan ons slegs die eggo van die herinnering op die papier ervaar.

Lize sê dan ook dat musiek en liriek haar lewe lank die kanaal was waardeur sy kon uiting gee aan haar emosies, maar in ‘n besondere traumatiese en seer tyd van haar lewe kon sy eenvoudig nie haar hart en gedagtes in woorde en klank bêre nie.  Sy erken sy het geen kennis of bekendheid met mandalas gehad nie – die mandalas het hulself as’t ware aangemeld, sonder ‘n soeke daarna: dit was net eenvoudig dáár.

Sy  teken vir ure en dae aanmekaar en verloor dikwels tred met tyd, want vir haar is die mandalas inderdaad briewe, gesprekke, gebede – haar hart en gedagtes. Die skeppingsproses bring vir haar kalmte en heling mee, en beteken vir haar geweldig baie.

Dit was juis een aand nadat ons langs die see gaan eet het dat ek by Lize aan huis gevra het wat op die eetkamertafel onder sneespapier skuilhou.  Sy het skugter gesê sy teken vir terapie, en toe ek daarna uitvra, het sy met kenmerkende skroomvalligheid dit afgemaak as “vingeroefeninge”.  Dit was duidelik veel, veel meer, en ek het dadelik met Nita Cronjé gepraat oor die moontlikheid om Lize se werk aan ‘n groter gehoor bekend te stel – en dis wonderlik dat die reis tot dusver so goed verloop.

Maar hierdie versameling werke is meer as kunswerke teen ‘n muur: dis ‘n ode, ‘n homage aan die liefde en in die besonder die groot liefde van Lize se lewe.   Ek het geen twyfel dat Annake hier vandag – soos ons so dikwels in die verlede saam gedoen het – die heildronk van ‘n goeie chardonnay op Lize en haar werk sou drink nie, en op die wonderlike gawe van die lewe wat ons vandag hier saam kan vier.

En ter herinnering van hierdie afwesige dog intens teenwoordige liefling en sielsgenoot, haal ek graag die pragtige Zen koan uit die ou Buddhistiese geskrifte aan.  Dis ‘n verhaal, en dit lui soos volg:

A long time ago in China there were two friends, one who played the harp skilfully and one who listened skilfully.  When the one played or sang about a mountain, the other would say: I can see the mountain before us.  When the other played about water, the listener would exclaim: Here is the running stream.

But the listener fell sick and died.  The first friend cut the strings of the harp and never played again.  Since that time the cutting of harp strings has always been a sign of intimate friendship.

Ons is bly Lize het haar harp slegs vir ‘n rukkie neergelê uit eerbied, en die musiek laat stil word om ‘n bietjie te rus.  Ons is eweneens bly dat haar skeppende gees ‘n nuwe rivierloop gevind het om boordens-toe te vul.  Dis die wonderlike kuns wat ons vandag hier om ons sien.

Waar sy eers slegs as musikant die verbeelding van haar gehore aangegryp het, het kunsliefhebbers nou die geleentheid om haar skeppende talent visueel te geniet en te waardeer.  In die proses, geniet ons die dubbele vreugde van haar talent, en hoor ons op ‘n nuwe wyse hoe haar harp op papier sing as ‘n teken van ‘n intieme, wonderlike vriendskap en liefde.

Coenie de Villiers

LizeBeekman

Coenie de Villiers open Lize Beekman uitstalling

Lize Beekman uitstalling

Lize Beekman Mandala kuns

Lize Beekman Mandala kunsuitstalling