5 Idees vir inkleur mandalas

Colouring book for adults by South African artist Lize Beekman.

MEDIUM VOORSTELLE vir INKLEUR

medium-voorstelleEk deel graag met julle die potlode, penne en ink wat ek gebruik vir my mandalas (sien foto-lys), maar dit is verseker NIE die enigste opsies nie. Die potlode en penne wat ek gebruik is baie duursaam omrede my oorspronklike werke tekoop aangebied word. Hierdie spesifieke make kan moontlik vir jou ‘n onnodige groot uitgawe wees vir die doel van inkleur, naamlik die vreugde en ontspanning daarvan.

My eerste voorstel sal GEWONE KLEUR POTLODE wees en ‘n goeie skerpmaker byderhand.  Met kleurpotlode sal jy gemaklik die groter spasies sowel as die fyner detail kan inkleur. Dit gee ook vir jou die opsie om verskillende skakerings te gebruik en selfs verskillende kleure in mekaar te laat vloei, sou jy wou.  Daar is ‘n verskeidenheid stel-grootes beskikbaar in verskillende make, so jy kan kies wat binne jou prysklas val. Dit is ook maklik bekombaar by ‘n verskeidenheid van winkels.

Ek het selfs gesien dat iemand een van my mandalas met GEWONE GRYS SKETSPOTLODE (2B, HB en H) inkleur en die mandala vul met afwisseling tussen donker en lig en hard en sag. Die eindresultaat was baie mooi!

‘n Ander opsie is “MARKERS” (soos byvoorbeeld die Copic Ciao pen en die Graphit pen op my foto-lys).  Dit is egter ingevoerde produkte en gevolglik baie duur – een pen kos meer as ‘n hele stel potlode! Die dunner punt op die penne is soms egter steeds te dik vir die fyner detail, en om grooter spasies daarmee in te kleur kan ‘streperig’ voorkom en boonop raak die ink dan baie vinnig op. Ek is nie tans bewus van goedkoper “markers” waarvan die ink jare sal hou nie, so as jy afkom op so produk wat vir jou werk, laat weet vir ons!

Op my foto-lys is ook ‘n voorbeeld van ‘n BAIE FYN KWASSIE en ‘n BOTTELTJIE INK wat ek ook gebruik.  Die spesifieke maak wat ek gebruik het ‘n pigment basis en nie ‘n waterbasis nie.  Dit is egter ook duursaam, maar ‘n fyn kwassie met WATERVERF en/of AKRIELVERF en ‘n “steady hand” sal ook werk. Ek self gebruik egter nie waterverf nie omrede dit oor jare verdof, maar as jarelange bewaring nie jou doelwit is nie, kan jy dit gerus gebruik. Akriel is natuurlik ‘n dikker verf, so dis moeiliker om vir fyn werk te gebruik, maar met oefening raak mens vertroud met die produk. So, as dit jou begeerte is om fyn akriel-inkleur te doen, hou net moed!

Ek het die dikste opsie van PAPIER vir die inkleurboek gekies sodat jy meer opsies het vir die medium wat jy gebruik, maar onthou, papier bly papier en as dit oor en oor met vloeistof (verf-produkte) deurdrenk word, gaan dit begin krom trek. Weens die dikte van die papier behoort geen medium deur te slaan na die volgende blad toe nie, maar die binding van die inkleurboek is ook deurdag gekies – dat dit gelym is (soos ‘n sketsboek) op die rugkant – en gevolglik kan jy die bladsye mooi uitskeur sodat jy op ‘n ander oppervlak kan sit en inkleur as jy wil.  Lekker inkleur!

Ek sien uit om al die mooi te sien, so deel gerus op Facebook of Pinterest julle skeppings en gebruik #ColouringForGrownUps.

Lize

2 thoughts on “5 Idees vir inkleur mandalas

Comments are closed.